ONS REËLS

OPTEL EN AFLAAI VAN U KIND: AANKOMS EN VERTREK TYE

  • Kleuters word persoonlik ontvang vanaf 07h15. Let asseblief daarop dat kleuters  deur die ouer aan die persoon aan diens oorhandig moet word.
  • Ouers word versoek om betyds te wees aangesien die dagprogram omstreeks 08h30 begin en U kleuter sekere aktiwiteite kan misloop en dit ook ontwrigtend kan wees as hy/sy altyd laat is.
  • Kleuters word nie na wagtende motors gestuur nie, maar word persoonlik deur die ouers afgehaal. Ouers word versoek om nie laat te kom nie, aangesien dit `n klein kindjie geweldig ontstel as almal vertrek en hy/sy alleen agterbly. Boetes van R50/15 minute laat is betaalbaar vir laat kom haal en word op die kol oorhandig aan die personeellid aan diens.
  • Indien U soggens laat arriveer by die skool as gevolg van onvoorsiene omstandighede, vra ons dat U slegs U kind aan die die personeellid aan diens by die kombuis/voordeur oorgee  en nie self in die klaskamer inkom nie – aangesien dit die onderwyser en leerders onderbreek

AFSPRAKE

Indien U ‘n saak met ‘n onderwyser wil bespreek, moet Uasseblief vroegtydig ‘n afspraak met die onderwyser maak. Suzaan / Tarien kan enige tyd ook insit.

SPEELGOED EN KLEREDRAG

  • Kinders word nie toegelaat om speelgoed skool toe te bring nie.
  • Ouers word versoek om toe te sien dat kleuters gemaklik aangetrek is, sodat hulle met gemak kan speel en mag vuil word. Spel met verf, sand en modder is deel van die dag se werk en deftige klere weerhou die kleuter van deelname aan hierdie belangrike aktiwiteite.
  • Kleuters word aangemoedig om selfstandig te wees en daarom moet ouers toesien dat kledingstukke maklik deur die kleuter aan- en uitgetrek kan word.
  • Alle klere en besittings moet gemerk wees.

VERVERSINGS EN VOEDSEL

  • As ‘n ouer so verkies kan hul ‘n kosblik met gesonde verversings saamstuur.
  • Ons vra dat ouers asseblief sover moontlik nie lekkergoed inpak skool toe nie. (As dit partytjie-tyd is – kan u reël met die onderwyser)
  • Drinkwater is altyd beskikbaar.
  • Vrugte is die hele dag beskikbaar.
  • Indien `n kind enige allergieë het, moet Steggies asseblief met registrasie daarvan verwittig word en sal dit help as u self korrekte kos kan voorsien.

MEDIKASIE

GEEN medikasie sal toegedien word by die skool nie. Dus moet kinders met koors, oorpyn, diarree,veluitslag, ooginfeksie,vomering en ander aansteeklike siektes tuis gehou word. Indien U kind enige van hierdie kondisies/simptome vertoon met aankoms of dit ontwikkel deur die loop van die dag, sal U gekontak word om u kind so gou moontlik te kom haal.

ALGEMEEN

  • Daar word van ouers verwag om asb alle skoolvergaderings by te woon indien vergaderings geskeduleer word.
  • Daar word van ouers verwag om asb behulpsaam te wees met fondsinsamelingsaktiwiteite. Die fondse word gebruik om hulpbronne en fasiliteite vir die kinders te verbeter – dus sal deelname hoog op prys gestel word.

TERME EN VOORWAARDES

  • ‘n Eenmalige (nie-terugbetaalbare) inskrywingsfooi is van toepassing op alle kinders.
  • Skoolkwartale sal ooreenstem met dié van die Provinsiale Skoolkwartale van die Wes-Kaap. Vakansiesorg en skeduleer van die af week in Junie/Julie, berus by bestuur se oordeel.
  • Neem kennis dat een volle kalender maand se kennisgewing vir ontrekking van enige leerling vereis word.  Dit moet asseblief skriftelik geskied en die prinsipaal bereik. Indien dit nie gedoen word nie sal die betrokke party aanspreeklik gehou word vir die volle kwartaal se fooie – of die kind aanwesig is of nie.
  • Geen ouer kan aanspraak maak op enige terugbetalings as die kind afwesig is vir enige gedeelte van die kwartaal nie – nie weens siekte of enige ander redes nie.
  • Alle persone en kinders wat by Steggies Kleuterskool inskryf of die perseel betree, doen dit op eie risiko.
  • Die reg van toegang tot die perseel word te alle tye voorbehou. Ons het egter ‘n oop-deur beleid vir enige ingeskrewe ouer.
  • Alle persone wat Steggies Kleuterskool se eiendom betree, die ouers van kleuters en die partye tot hierdie ooreenkoms, onderneem om die reëls en regulasies van Steggies Kleuterskool stiptelik na te kom en bevestig dat daardie reëls by hierdie ooreenkoms ingelyf word as deel daarvan.
  • Deur die aansoekvorm te voltooi verklaar die ouer/ aansoeker dat hy/ sy verantwoordelik is vir die betaling van die skoolfonds en enige ander fooie.
  • Agterstallige rekeninge sal aan die prokureur oorhandig word.
  • Hiermee verklaar u ook dat alle gegewe inligting korrek is, en dat indien enige besonderhede sou verander, u die skool onmiddellik sal inlig.